VKB 360

This article is currently only available in Afrikaans

Die VKB Groep loods tans ’n aanlyn platform, VKB360, spesifiek ontwerp om aan ons lede toegang te gee tot al hul inligting by VKB, asook baie ander dienste via hierdie aanlyn platform.
Die platform is geskep te midde van die oorgang na die digitale tydperk en in ’n poging om ons lede se self-help-vermoë te verhoog. Die platform sal help om dit nóg makliker te maak om met die VKB Groep besigheid te doen.

Wat is VKB360, mag jy vra, en wat is die voordele daarvan vir my as ’n lid van die groep?

Die uiteindelike mikpunt van hierdie platform is ’n aanlyn platform wat jou as lid in staat sal stel om al jou interaksies met VKB te besigtig, van aanlyndienste gebruik te maak, soos byvoorbeeld die beskikbaarheid van voorraad te kan nagaan en aanlyn aankope te kan doen, om maar net ’n paar te noem. Dit beteken ’n 360 grade oorsig van al jou raakpunte in die VKB-groep, waaronder toegang tot alle dokumentasie wat op jou reis met VKB geskep is. Die stelsel kan ook deur jou as ’n lid aangepas word om toegang tot sekere data te verleen, soos byvoorbeeld state wat deur jou rekenmeester benodig word.


Die uiteindelike oplossing sal funksies (om maar net ’n paar te noem) insluit, soos byvoorbeeld:

  • Gewasbeplanningsvermoë per land wat lei tot volledige beplanning vir die seisoen;
  • Besigtig al jou interaksies met afdelings in die VKB Groep;
  • Versoek sekere dienste van die VKB Groep;
  • Besigtig beskikbaarheid van voorraad in die VKB Groep;
  • Elektroniese state en fakture; en
  • Alle bestaande funksies wat tans op die VKB-webportaal beskikbaar is, soos kontrakte, gehalte en hoeveelheid van graan wat in silo’s gestoor word, ens.


Die kern van die platform is reeds ontwikkel en sal die basis vorm waarvandaan verdere funksies mettertyd geloods sal word. In die aanvanklike stadium sal ons VKB360 met alle huidige beskikbare funksies loods via die VKB-webportaal. Die aanvanklike bekendstelling sal ook die funksie bevat waar ’n lid sy/haar onderneming kan bestuur, plaasuitleg (kaarte) kan doen met sy/haar eie numering van landerye, die plaasuitlegkaarte kan druk en ook oorlegsels kan doen met weerinligting, satellietbeelde, ens.


Ten einde hierdie platform te aktiveer en dit aan jou as lid beskikbaar te stel, moet ons jou inligting vooraf laai (wat ons reeds op verskeie VKB-stelsels het) op die VKB360-portaal. Dit sal ’n makliker oorgang na VKB360 verseker.
Om te help met die laai van hierdie inligting, het VKB kragte saamgesnoer met Agrisol om te help met die verifikasie en/of data-invorderingsproses.


Wie is Agrisol?

Agrisol en die VKB groep het sedert Januarie 2020 ’n gesamentlike onderneming. Dit is ’n innoverende maatskappy wat fokus daarop om volhoubare oplossings aan boere te bied. Agrisol bestaan hoofsaaklik uit twee dele, naamlik sagteware-ontwikkeling asook ’n span landboukundiges wat fokus op grondbestuur reg oor Suidelike Afrika.

Agrisol fokus daarop om grond só te bestuur dat die risiko van droogte en versuiping noemenswaardig verminder word en die boer se wins geoptimaliseer word. Agrisol het ’n span landboukundiges oor die hele Suid-Afrika, ’n span sagteware-ontwikkelaars in Potchefstroom en tegnici wat monsters oor die hele Suidelike Afrika versamel. Agrisol is betrokke by die ontwikkeling van die VKB360-platform, wat baie nuwe funksies en dienste aan die boer gaan bied. Agrisol doen grond- en blaar-ontledings en aanbevelings vir die boer. Dit sluit in die eenvoudigste ontledings tot baie gevorderde presiese ontledings en aanbevelings. Al hierdie ontledings en aanbevelings word geliasseer op ’n stelsel om oor tyd tendense te sien, waarnemings te maak en grond beter te bestuur.

Data/inligting

Ons is alte bewus van die sensitiwiteit wanneer dit by data kom.
Die VKB360-platform word gehuisves in die VKB-netwerk saam met al die ander VKB-stelsels wat in die groep gebruik word. Ten opsigte van die data-verifikasieproses, en hoewel Agrisol binne die bestuursprosesse van die VKB Groep val, is ’n afsonderlike databeskermingsooreenkoms aangegaan tussen die twee partye om die integriteit en sekuriteit van die data spesifiek verwant tot die inwerkingstelling van die VKB360-portaal te verseker.


Besonderhede van die kompetisie

Sodra die platform gereed is vir gebruik, sal jy as lid ’n skakel ontvang om toegang te kry tot die VKB360-portaal om jou portefeulje te sien. Ons gaan op die bekendstellingsdatum ’n gelukstrekking hou van lede wat op die portaal geregistreer is. Die prys is ’n groot geraamde kleurafdruk van jou plaas se uitleg (wat op die VKB360-portaal gelaai sal wees). Dit sal ’n wonderlike toevoeging tot jou kantoor wees.
Ons is baie opgewonde oor die bekendstelling van hierdie platform wat op die ou einde jou portaal sal wees waar jy interaksie met die VKB Groep sal hê op ’n enkele platform waar jy in beheer is van die data wat spesifiek op jou plaas/onderneming betrekking het.