Persverklaring - AANSTELLING VAN NUWE BESTURENDE DIREKTEUR: VKB GROEP
Mnr. Koos Janse van Rensburg, die VKB Groep se huidige Besturende Direkteur, tree af op 30 September 2022. Hy het op 1 Februarie 2007 aangesluit by die VKB Groep. In die daaropvolgende 15 jaar het hy ʼn merkwaardige bydrae gelewer tot VKB se dinamiese groei en vooruitgang. Die VKB Groep het gedurende hierdie tydperk gegroei van ʼn koöperasie tot ʼn suksesvolle, uitgebreide groep van 33 entiteite met gediversifiseerde belange in die landbouwaardeketting. Mnr. Van Rensburg is welbekend in veral die landboubedryf, en ʼn geliefde en dinamiese leier wat sy mense saamsnoer en ʼn kultuur van uitnemendheid skep.
Die Direksie van VKB Beleggings (Edms.) Bpk. het op 21 Junie 2022 bekend gemaak dat dr. PG Strauss aangestel is as mnr. Van Rensburg se opvolger. Dr. Strauss beklee tans die posisie van Besturende Direkteur van VKB Landbou (Edms.) Bpk. Hy het ʼn roemryke loopbaan in die landbou en internasionale handel. Benewens uitsonderlike kennis en ervaring, bring dr. Strauss dinamiese en innoverende besigheidsvisie en ’n passie vir kliëntediens na die VKB Groep. Die Direksie sien met verwagting uit na sy bydrae om die VKB Groep na nog hoër hoogtes te lei.