GWK se aandeelhouers sê ja vir samesmelting met VKB
GWK se aandeelhouers het op 11 Augustus 2022 ten gunste van die voorgestelde amalgamasie tussen GWK en VKB gestem.
Dié besluit is geneem tydens ʼn spesiale aandeelhouersvergadering wat op Douglas aangebied is. VKB se direksie het reeds voorheen binne hul mandaat die transaksie goedgekeur onderhewig aan instemming deur GWK se aandeelhouers en die betrokke regulatoriese goedkeurings, onder meer van die mededingingsowerhede.
Mnr. Nicolaas Kruger, voorsitter van die GWK Groep se direksie, sê ná afloop van ʼn baie konstruktiewe en deeglike onderhandelingsproses tussen GWK en VKB, het GWK se direksie eenparig besluit om die transaksie te ondersteun en vir goedkeuring aan die maatskappy se aandeelhouers voor te lê. Die GWK-aandeelhouers se ondersteuning vir die transaksie tydens die spesiale aandeelhouersvergadering is ʼn baie belangrike strategiese mylpaal in GWK se geskiedenis. “Ons is verheug dat GWK se aandeelhouers saamstem met die strategiese voordele wat die transaksie met verloop van tyd vir die verskillende belanghebbendes kan ontsluit, insluitend skaalvoordele, groeigeleenthede en risiko-diversifisering,” sê Kruger.
Volgens mnr. Coenraad Fick, voorsitter van die VKB Groep se direksie, is VKB oortuig dat die voorgenome transaksie waarde inhou vir albei ondernemings en hulle aandeelhouers: “Ons verwag dat sinergieë ontsluit kan word wat tot groter stabiliteit en volhoubaarheid sal bydra in ʼn uitdagende en volatiele omgewing. Die ooreenstemmende besigheidskulture en visie van die ondernemings behoort by te dra om implementering te vergemaklik. Ons voorsien ook dat dit dienslewering aan kliënte sal verbeter met gepaardgaande voordele. Ons is opgewonde dat dit ʼn soliede basis sal skep om geleenthede vir toekomstige groei en vooruitgang te benut.”
Die goedkeuring deur GWK se aandeelhouers volg ná gesprekke tussen die twee maatskappye reeds in Julie 2020 afgeskop het en, meer onlangs, ʼn vaste voorneme aankondiging vir die moontlike amalgamasie wat op 8 Julie 2022 bekend gemaak is aan GWK se aandeelhouers. Die aankondiging is opgevolg deur ʼn reeks spesiale inligtingsessies vir GWK se aandeelhouers in die week van 11 tot 14 Julie 2022 om fynere besonderhede oor die transaksie met GWK se aandeelhouers te deel, ter voorbereiding vir die spesiale GWK-aandeelhouersvergadering van 11 Augustus 2022. Die gesprekke en noukeurige werk is gewortel in die lang termyn doelstellings van albei maatskappye en om momentum te behou met die besighede se groei- en toekomsstrategieë.
Die voorgestelde transaksie sluit opsommend die volgende sleutelbeginsels in:
- ʼn Kontantbedrag asook ʼn finansiële instrument wat deur VKB uitgereik word aan GWK-aandeelhouers om op ʼn regverdige grondslag volgens kapitaalwaarde saam met aandeelhouers van VKB belange en stemreg in die gesamentlike onderneming te hê;
- Verteenwoordiging van albei maatskappye se historiese aandeelhouers op die direksie van die gesamentlike onderneming;
- Behoud van albei handelsmerke, sowel as voortgesette besigheid onder hierdie handelsmerke; en
- ʼn Integrasiekomitee met gelyke verteenwoordiging uit die twee groepe sal ingevolge die transaksie die mandaat hê om die integrasie van die ondernemings se bedrywighede te beplan en te monitor.
Die samestelling en ontwerp van die transaksie is gedryf deur afgevaardigdes van GWK en VKB, in samewerking met ʼn eksterne, onafhanklike korporatiewe adviseur, Pallidus, om ʼn ooreenkoms saam te stel wat verseker dat albei partye beskerm en bevoordeel word. Die afgevaardigdes van GWK en VKB het krities gaan kyk na verskeie aspekte, onder meer sinergieë in terme van maatskappykultuur en -struktuur, ʼn gedeelde visie om landbou verder te bevorder, die behoud van ʼn besigheid in boerebesit en die voortsetting van gehalte ondersteuning aan produsente op plase.
Mnr. Llewellyn Brooks, die GWK Groep se besturende direkteur, sê die ondersteuning van GWK se aandeelhouers is ʼn belangrike mylpaal in die besigheid se strategiese reis. “Ek is opgewonde oor die geleenthede wat hierdie transaksie vir al ons belanghebbendes gaan ontsluit en sien uit daarna om die landboumaatskappy van die toekoms te help skep.”
Volgens mnr. Koos Janse van Rensburg, die VKB Groep se huidige besturende direkteur, is die aanvaarding deur GWK se aandeelhouers van die aanbod wat deur VKB gemaak is die resultaat van twee jaar se onderhandelingsgesprekke: “GWK én VKB se produsente sal baat by die transaksie. Die sinergieë wat tussen die besighede bestaan, sal die groter besigheid na ʼn volgende rat laat oorskakel ná die transaksie. Dit sal nuwe geleenthede ontsluit en ook vir personeel beter persoonlike groeigeleenthede bied. Ons sien uit om die geleenthede te ontgin indien die regulatoriese owerhede die transaksie goedkeur.”
Dr. PG Strauss, wat mnr. Janse van Rensburg van 1 Oktober 2022 as besturende direkteur van die VKB Groep opvolg, sê GWK en VKB het ʼn belangrike bydrae om te maak in die Suid-Afrikaanse landboubedryf: “Samewerking verbeter die volhoubaarheid van albei ondernemings, en verseker dat albei ondernemings ook in die toekoms produsente sal kan ondersteun om vooruit te gaan en volhoubaar te wees. Dít met die doel om voedselsekuriteit en ekonomiese groei van Suid-Afrika te ondersteun."
Die voorgestelde transaksie tussen GWK en VKB sal eersdaags dien voor die mededingingsowerhede en is, onder meer, onderhewig aan hierdie goedkeuring voor die integrasieproses aanvang kan neem. Die gesprekke tussen die twee maatskappye was, en word steeds, onderhewig aan voldoening aan mededingingswetgewing en ander regulatoriese goedkeurings hanteer.