Aandeelhouding
Aandeelhouers
Slegs bona fide-produsente met boerderyaktiwiteite wat na goeddunke van die Raad nie wesenlik met VKB se besigheidsaktiwiteite meeding nie, kwalifiseer om aandele in VKB op te neem. Die Raad se besluit of ’n produsent ’n bona fide- produsent is, al dan nie, is finaal.
Aansoek om lidmaatskap
Aansoek om lidmaatskap moet op die vorm wat vir daardie doel verskaf word, gedoen word; met dien verstande dat elke persoon wat om lidmaatskap aansoek doen, om minstens 5 000 gewone aandele moet aansoek doen. Die nominale waarde van elke gewone aandeel is R1,00 (een rand) en is by aansoek om lidmaatskap betaalbaar.
’n Persoon word ’n aandeelhouer in VKB by uitreiking of oordrag van ’n aandeel aan hom of haar. Alle aandeelhouers is gebonde aan die artikels, memorandum en reëls van die onderneming.
Aandele
Die oordrag/verhandeling van aandele is beperk en mag slegs aan die onderneming terugverkoop word. Die nominale waarde van die aandele hierbo vermeld, word by beëindiging van lidmaatskap aan aandeelhouers terugbetaal.
Korting/Agterskot
Die Raad is geregtig om jaarliks aansporings-kortings en agterskotte aan die aandeelhouers van die Maatskappy toe te staan ter aansporing van toekomstige besigheid van aandeelhouers met die Maatskappy. Vanaf die datum van inkorporasie van die Maatskappy, word elke R1.00 korting wat toegestaan is aan 'n aandeelhouer omskep in 'n R0.99 aandeelhouerslening en R0.01 in 'n stemdraende aflosbare voorkeuraandeel (Klas B aandeelhouerslenings). Onderworpe aan die diskresie van die Raad, sal Klas B aandeelhouerslenings uitbetaal word na 15 jaar. 'n Aandeelhouer wat ten tyde van die toekenning van 'n bepaalde jaar se kortings 55 jaar of ouer is, se aandeelhouerslening word op ouderdom 70 jaar uitbetaal onderhewig aan 'n minimum periode van 5 jaar. Die aansporings-kortings en agterskotte word toegeken ooreenkomstig die maatskappy se artikels en die aansporings-kortingsbeleid van tyd tot tyd deur die Algemene Vergadering goedgekeur.

