VKB – Nuwe Korporatiewe Beeld

VKB het op 9 Februarie 2011 tydens 'n formele geleentheid sy nuwe korporatiewe beeld aan sy lede bekendgestel. Hierdie byeenkoms was die laaste amptelike plegtigheid van Vrystaat Koöperasie Beperk. Vrystaat Koöperasie Beperk bestaan reeds 97 jaar en staan bekend as 'n onderneming wat ongekende lojaliteit in die landbou ervaar.

Die naam Vrystaat Koöperasie Beperk verander nou na VKB Beperk.

VKB besef dat die instandhouding en ontwikkeling van handelsmerke in toenemende mate 'n integrale deel van die moderne kultuur en ekonomie uitmaak. VKB  neem dus altyd die voortou met die jongste tegnologie in en ontwikkeling van alle fasette van die landboubedryf.

VKB het gaandeweg volwassenheid bereik; voorts ervaar dié onderneming fenomenale groei wat in sy nuwe identiteit versinnebeeld word.

Die nuwe visuele identiteit verteenwoordig alles wat met VKB vereenselwig word.

Die konsep 'Groen' word met groei geassosieer en die onderskeie skakerings van groen verteenwoordig die verskillende groeifases - die groei van die oes op die land, die groei en vooruitgang van die produsent én VKB se dinamiese groei.

Mnr Koos van Rensburg, Hoof Uitvoerende Beampte van VKB, het gesê dat VKB  'n trotse produsenteonderneming is en dat die leuse, 'Die Pad Saam', steeds die kern van VKB se besigheid vorm.